Labels

Showing posts with label Politics. Show all posts
Showing posts with label Politics. Show all posts

4/25/11

Orania Jeug stig kampus-tak


2011-04-20
Ryno Ellis


Orania het nou ’n jeugtak by Tuks, Orania Jeug, en dié organisasie sorg vir gemengde reaksie onder studente.

Orania Jeug se Tukkies-tak is op 8 April gestig. Pieter de Villiers, voorsitter van dié tak, sê hulle wil studente bewus maak van dié omstrede Afrikaner-dorpie op die grens van die Vrystaat en die Noord-Kaap.

Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van Orania Jeug en die voorsitter van Tuks se Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), sê Orania is nie ’n plek waar ou idees of mense vasgevang is nie.

“Orania is ’n plek waar Afrikaners rustig kan voortleef, hul eie dorpsraad hê, hul eie besluite kan neem en binne die konteks van Suid-Afrika die ideaal van die Afrikaner uitleef,” sê Oberholzer.

Die doel van die jeugtak by Tuks is volgens Oberholzer nie om nuwe inwoners vir die dorp te werf nie, maar eerder om mense in te lig.

“Jon mense voel al hoe meer hulle wil verantwoordelik wees vir hulle eie toekoms, sonder regstellende aksie, sonder korrupte munisipaliteite en in ’n omgewing waar hulle hul kultuur kan uitleef,” sê hy.

Oberholzer sê daar is niks ekstremisties omtrent Orania nie.

“Niemand in Orania is rassisties of ekstremisties nie. Orania is nie gestig uit haat vir die res van Suid-Afrika nie,” sê hy.

Sedupe Ramokgopa, die voorsitter van die South African Student Congress (Sasco), is nie beïndruk daarmee dat Orania Jeug ’n Tuks-tak het nie.

“Na my mening staan ’n organisasie soos Orania vir niks meer as regse politiek en anargie nie,” sê Ramokgopa.

Hy wens dié organisasie voorspoed toe as hulle die studente se belange op die hart dra, maar waarsku studente om bewus te wees van verskuilde agendas.

Marlene Botha, ’n Tuks-student, is teen die Orania-beweging op kampus gekant.

“Die Orania-gemeenskap is ’n teruggryping na Afrikaner-nasionalisme. Hulle leef onder ’n illusie as hulle dink hulle gaan enigiets regkry op kampus. Dit is maar net nog ’n groep studente wat onder die invloed van hul voorouers se politieke ideale is,” sê Botha.

4/10/11

Politieke leiers verdeeld oor Zuma-bedsake


2010-02-10
Ryno Ellis


Of hy geteken word met ’n stortkop bo sy kop en of hy afgeneem word by sy hoeveelste huwelikseremonie, een ding is seker: Suid-Afrika se president, Jacob Zuma, word altyd deur die een of ander skandaal gevolg.

Die nuutste skinderstorie oor Zuma is dat hy nog ’n buite-egtelike kind by die sokkerbaas Irvin Khoza se dogter Sonono Khoza verwek het.

Dié vier maande oue baba, Thandekile Matina, is Zuma se 20ste spruit.

Kampus-Beeld het by Tuks-studente en ander kampus-rolspelers gehoor wat hulle dink van Zuma se bedsake. Mehluli Nhlengethwa, hoof van die ANC-jeugliga op kampus, wou nie veel kommentaar lewer oor Zuma se private lewe nie.

Hy dink nie dit bring enigiemand iets in die sak om te tob oor wat politici agter geslote deure doen nie.

“Dit help nie mense soos ek en jy kritiseer die president se doen en late nie. Ons moet eerder saamwerk om groter bewustheid oor MIV/vigs te skep om die virus te oorwin,” het hy gesê.

Cilliers Brink is die DA-hoof op kampus.

Hoewel hy ook nie van Zuma se moraliteit ’n openbare kwessie wil maak nie, dink hy die welstand van die samelewing is in dié geval belangriker as goeie maniere.

“As ons staatshoof na hartelus onbeskermde seks met enigiemand het, stuur dit ’n baie gevaarlike boodskap die samelewing in.

“Die regering van so ’n leier het gewoon nie die gesag om gewone mense van riskante seksuele gedrag te ontmoedig nie.

Duidelik is die ANC-regering onder pres. Zuma net so onverskillig en onbeholpe in die stryd teen MIV/vigs soos onder pres. Thabo Mbeki.”

Ratshibvumo Ramabulana, ’n derdejaar-regstudent en lid van die ANC-jeugliga op kampus, dink ook nie dis reg om die president se optrede te bevraagteken nie.

“Wie weet of hulle nie dalk verlief is nie?” het Ramabulana bygevoeg.

Pierre Brouard, vise-direkteur van die sentrum vir vigsnavorsing (CSA) by Tuks, meen die president se optrede dui eerder op sy gesindheid teenoor vroue as sy houding teenoor vigs.

Hy het gesê dis hartseer dat Zuma sy magsposisie misbruik en dat vroue wat dalk self die mag najaag, hulle aan hom oorgee.

Tydelike komitee kry die bal aan die rol


2010-04-14
Ryno Ellis


Die Tydelike Studente Komitee (TSK) sê studente en hul probleme is hul belangrikste verantwoordelikheid.

“Kry die bal aan die rol” is die slagspreuk van die Tydelike Studente Komitee (TSK).

Dié tussentydse komitee is aangestel nadat protesaksies die universiteit se Verteenwoordigende Studenteraadsverkiesing verlede jaar ontwrig het.

Sedertdien is daar nog nie ’n nuwe verkiesingsdatum aangekondig nie.

Prof. McGlory Speckman, die UP se studentedekaan, sê die TSK is verlede Oktober aangestel deur die Multiparty Konferensie (MPK), Studente Vergadering (SV) en 2009 se VSR.

“Die TSK is presies wat die naam aandui,” sê die UP se registrateur, prof. Niek Grové. “Dit is ’n tydelike komitee wat die rol van die VSR moet vervul totdat ’n nuwe VSR verkies is.”

Volgens Grové is die TSK nie so groot soos die VSR nie en het nie, soos gewoonlik in die geval van ’n VSR, ’n SV as tweede been van die studenteregering nie.

Hy sê egter die TSK het in belang van goeie studenteregering presies dieselfde opleiding gekry as wat die VSR normaalweg sou.

Hoewel die TSK net ’n tydelike komitee is, het dié groep studente ’n duidelike missie en plan vir Tukkies.

Marius Ellis, voorsitter van die TSK, sê dié organisasie dra studente se belange op die hart.

“Ek is baie trots op my sterk span leiers,” sê hy.

Prof.Grové beaam dit.

“Almal wat op die TSK dien het groot toewyding gewys om op dié liggaam te dien, veral onder moeilike omstandighede.”

Hy sê die helfte van die lede van die TSK het verlede jaar op die VSR of SV gedien. “Dié kontinuïteit is baie waardevol.”

Inklusiwiteit in UP se visier Ellis is onseker of daar voor die einde van die jaar ’n VSR verkies sal word. Totdat dit gebeur, sal hy en sy span egter hard werk ten bate van alle studente.

Hector Beyers was verlede jaar die voorsitter van die VSR en sê die UP se grondwet bepaal die TSK mag net vir ses maande dien.

“’n Nuwe VSR moet dus voor die einde van Junie verkies word,” sê hy.

“Die probleem met ’n struktuur soos die TSK is dat studente geen insette gehad het in die kiesproses nie. Daarom moet daar so vinnig as moontlik verkiesing gehou word sodat die gewone studente ’n sê het oor wie op die VSR mag dien.”

Volgens Grové word die universiteit se grondwet tans hersien om groter inklusiwiteit te verseker. Hy is hoopvol dat die proses voor die einde van die jaar afgehandel sal wees.

Beyers is egter ongelukkig oor die manier waarop die onderhandelingsproses om ’n nuwe VSR-struktuur te bepaal verloop.

“Tuks se hoofbestuur wil die leiers van die betoging met alle graagte gelukkig maak sodat hul nie weer sal betoog nie,” meen hy.

“Sedert die betoging is geen van die betogers wat vermoedelik mense aangerand het en skade aangerig het, aangekla nie.

Wat die situasie vererger, is dat dieselfde leiers van die gewelddadige betoging al sedert verlede jaar met hoofbestuur in vergaderings sit.”