4/25/12

Moet haar nie oorsien nie. Die verhaal van Advokaat Mandy Joubert (Finale jaar skryfstuk)

Ryno Ellis

Op die vyfde vloer van die Hooggeregshof Kamers, tuiste van die Pretoriase Balie is junior Advokaat, Mandy Joubert se kantoor.

Ek stap in haar kantoor en dadelik vang my oog ‘n kort klerehanger wat uitsteek agter ‘n groot eikehout lessenaar. Die klerehanger lyk miniatuur in vergelyking met die ander meubels in haar kantoor.

Mandy verwelkom my met ‘n Johannesburgse aksent en vra of ek wil koffie hê. In kontras met haar yslike groot kantoor, is sy ‘n klein vrou. Na sy op haar stoel klouter, deel sy ‘n glimlag.

Mandy is aansienlik korter as haar mede vroue kolegas. As sy langs haar lessenaar staan, steek net haar kop bo-oor uit. Verder is haar heup ietwat gedraai en seker die mees opvallendste is haar hande. Daar waar haar arms moet wees, is twee klein hande wat direk uit haar skouers uitkom.

Skielik word ons aandag gelei na haar kantoorfoon wat lui aan die verste end van haar tafel. Nader aan my kant.
Voor ek kon aanbied om die foon aan te gee, spring sy op, rol haarself nader aan die tafel en gryp die oorstuk.
Terwyl sy ‘n konsultasie reël met die oorstuk vasgedruk tussen haar oor en skouer, draai haar hele lyf kant toe (met die stuk steeds in plek), trek sy haar dagboek nader en skryf die afspraak neer.

Sy sit die foon terug op die mikkie en vestig weer haar aandag op my. Voor ek kan begin, val sy my in die rede en sê, “Ek kan rêrig nie sien waarom jy ‘n profiel artikel wil doen oor my nie.”

Ek herinner haar dat sy ‘n inspirerende onderwerp is oor sy ‘n suksesvolle advokaat is met ‘n gestremdheid.
Sy is nog steeds nie oorreed met my verduideliking nie en ek kry my notaboek gereed en begin uitvra oor haar jeug.

Mandy was gebore op 11 Mei 1985 in Germiston. Sy verduidelik dat haar ouers nie vooraf geweet het van haar gestremdheid nie en hoe dit ‘n aanpassing was om haar huis toe te bring.

“Die dokters het nooit vooraf in enige sonar my misvorming agtergekom nie. My ouers vermoed dit was ‘n hormoonpil wat my ma geneem het tydens haar swangerskap met my, wat kon lei tot my misvorming. Hulle het geen konkrete bewyse nie, maar hulle het gehoor van ander vrouens wat dieselfde pil gebruik het, wat self probleme opgedoen het.”

Haar familie het later na ‘n plot in Benoni getrek waar Mandy gereeld haar pa gehelp het met die take.
“Ek onthou hoe ek my pa gehelp het om die skape te voer. Ek was ‘n regte tomboy in daardie dae.”

Ek vra Mandy of ek met haar ouers kan gesels oor haar jonger jare. Sy raak vir ‘n oomblik stil, amper ongemaklik en sê dat sy nie gemaklik sou wees met dit nie.
“Vir jare lank praat my ouers selfs min met my oor my gestremdheid, en ek weet hulle sal nie gemaklik wees om met ‘n vreemde persoon daaroor te gesels nie.”
Ek dui aan dat dit geen probleem sal wees nie, en vra verder.

Sy was vanaf Graad 5 na Hope School, in Parktown Johannesburg. Hope School is ‘n skool vir kinders met fisiese gestremdhede. Dit sluit alles in vanaf blindes, dowes en fisiese gestremde studente. Sy noem hoe sy tydens haar jare by dié skool vir die eerste keer die nietigheid van haar eie gestremdheid besef het.

“In die jare wat ek by Hope School was, het dit my opgeval dat my misvormdheid eintlik klein is in vergelyk met die ander kinders wat daar was. Hier het ek besef hoe gelukkig ek eintlik is.”
Ten spyte van haar onderwysers en ouers (meer spesifiek haar pa se raad) het Mandy aangedring dat sy haar Graad 11 jaar wil begin in ‘n gewone skool.
“Dit het vir my gevoel asof Hope School my in ‘n manier terug gehou het omdat ek nie so gesukkel het soos baie van die ander studente nie.”

Sy het in 2002 die oorgang na Wordsworth Highschool, in Benoni gemaak en het vinnig haar voete gevind.
“My ouers was veral baie teëgekant oor ek wou verander so laat in my skoolloopbaan maar ek moes dit net doen.In die begin was die verandering moeilik oor die studente my eers vreemd behandel het oor my gestremdheid, maar ek het binnekort baie vriende gemaak. Later het ek ‘n plek as prefek verwerf en my matriek geslaag met universiteitsvrystelling.”

Dit was in dié tyd wat Mandy die nodigheid ontwikkel het om mense wat haar betwyfel, verkeerd te bewys.
“Ek het ‘n voorsmakie van my vermoëns gekry en dit het in ‘n manier my gedryf om te kom waar ek vandag is.”
Na hoërskool het sy aansoek gedoen by die Universiteit van Pretoria om Regte te studeer en het suksesvol na vier jaar se studies haar LLB graad verwerf.

Advokaat Christo Bruwer wat saam met Mandy studeer het by Tukkies, en wat ook nou saam haar werk by die Pretoriase Balie, het haar destyds opgemerk in klasse tydens hulle universiteitsjare
“Ek het haar nie destyds geken nie, oordat ek nie heeltemal geweet het hoe om haar te benader nie, maar wat ek altyd opgemerk het is dat sy baie selfstandig was. Sy het haar eie notas geneem, en ook haar eie boeksak gedra sonder enige hulp van haar mede studente.”
Bruwer wat nou ‘n goeie kennis van Mandy is, sê hy besef nou daar was geen rede om ongemaklik te wees in haar teenwoordigheid nie.

“Terwyl ons saam ons pupilskap gedoen het, het ek het die voorreg gehad om haar beter te leer ken en het vinnig besef dat Mandy nie veel anders is as my mede kollegas nie. In my opinie het sy nie ‘n gestremdheid nie, sy is net anders as ek. Soos iemand met verskillende kleur oë.”

Mandy het in 2008 onder die mentorskap van Advokaat Johanni Barnardt, haar advokate opleiding gedoen. Sy het in die einde van 2009 haar pupilskap voltooi en het in 2010 begin praktiseer by die Pretoriase Balie.
Barnardt vertel van die jaar wat Mandy by haar geleer het was sy gewillig om te leer en het nooit toegelaat dat haar gestremdheid in haar pad staan tot sukses nie.

“Ek weet in die regsberoep, en om voor te gee dat jy is ‘n selfversekerde advokaat is, is oor die algemeen moeilik en dit moes nog moeiliker vir haar gewees het as gevolg van haar gestremdheid, maar nooit het sy enigsins haar onsekerhede laat wys nie en sy was baie gedrewe.”

Barnard bieg self dat sy met ‘n paar geleenthede prokureurs eers ingelig het van Mandy se gestremdheid wanneer sy hulle verwys het na haar toe.
“Ek het hulle altyd eers ingelig oordat ek haar wou beskerm, maar ek het binnekort besef dit is onnodig oordat Mandy in staat is tot alles as wat haar kollegas is.”

Barnard sê dit is merkwaardig om te noem dat Mandy nooit toelaat dat enige iemand haar ooit onderskat of vanselfsprekend neem nie.
“Mandy was en is nog steeds baie gemaklik met wie, en hoe sy is.”

Later die middag is Mandy is haastig op pad Hooggeregshof toe, net straataf van die Pretoriase Balie. Mandy het al haar notas vir die komende saak in ‘n roltas gedruk. Beide die tas en ek sukkel om by te hou met haar pas. Sy ruig deur haar mede kolegas terwyl sy elke nou en dan stop om iemand te groet.
Voor sy die warboel van die hof aandurf, staan ons in ‘n koelte langs die hof en Mandy vertel my trots van haar motor.

“Ek het my eerste motor in my tweede jaar by die universiteit gekry. Dit was vir my ‘n groot mylpaal omdat almal weer aangeneem het ek sal nooit my eie motor kan bestuur nie.”
Haar huidige motor, ‘n swart Mercedes SLK is spesiaal verander. Die stierwiel en pedale is verleng sodat sy gemaklik kan bykom en so dan self bestuur.

“My motor het gely tot my volle emansipasie vanaf my ouers af. Voor ek kon bestuur was ek afhanklik van hulle om my orals heen rond te ry. My motor het toegelaat dat ek meer op myself staat kon maak.”

Mandy se pa was nie ingenome met haar besluit om ‘n motor aan te skaf nie, maar weereens het sy haar sin gevolg.
Sy deel met my dat alhoewel haar pa min oor haar toestand praat, is dit vir hom baie moeilik om haar te sien grootword.

“Die rede waarom my pa beswaar gehad het met my oorgang na Wordsworth Highschool, en my besluit om ‘n motor te koop, is dat hy bang is ek kry seer. Hy is bang sodra hy sy greep oor my lewe laat los, gaan ek seer kry. Sy oorbeskermdheid is maar net sy manier om vir my lief te wees.”

Voor ons moet groet vra ek Mandy wat is haar planne vir die toekoms. Sy kyk na my met ‘n slinkse glimlag en sê, “Volgende gaan ek by my eie plekkie intrek. Alleen! Heeltemal selfstandig. My ouers dink ek is nog nie in staat om alleen te bly nie, maar ek gaan hulle wys.”

Sy groet en sonder hulp sit sy haar yslike groot sak op die sekuriteit se skandeer masjien, en draai om met dieselfde glimlag waarmee sy my verwelkom het. Meteens verdwyn sy in die hof tussen die magdom advokate wat soos pikkewyne skarrel om by hul sake uit te kom.

No comments:

Post a Comment