Labels

Comment Pieces (3) Entertainment (5) Features (3) Kampus Beeld (10) My Favourites (2) News (6) Perdeby (8) Photography (2) Politics (3) Res Update (6)
Showing posts with label Kampus Beeld. Show all posts
Showing posts with label Kampus Beeld. Show all posts

4/10/11

Moeilike jaar beteken nie slegte jaar


20/10/2010
Ryno Ellis


Ek staan nou die dag in ’n ry op kampus (besig om my te bekommer oor my volgende toets) en hoor toevallig hoe twee vriendinne gesels.
Die meisies verduidelik aan mekaar hoe wonderlik hul eerste jaar op kampus verloop het. Hulle spog geesdriftig oor hul nuwe vryheid as studente, en ook oor al die skatte wat die jaar voorsien het: splinternuwe motors, eie woonstelle, goeie vriende en ook oulike kêrels wat hulle bederf.
Ek het die meisies en al hul geluk stil-stil vervloek en my verder bekommer oor my verpligtinge.

Vanjaar was vir my die teenoorgestelde. Dit was gevul met hartseer, verkeerde keuses, geldelike onstabiliteit en liefdeskwale.
Ek het dae lank hierdie meisies beny. Ek het bly wonder waarom my jaar nie ook iets kon wees om oor te spog by ander nie.
Ek het besef ek was tydens my vorige jare as student bederf en onverantwoordelik. Ek het ’n sorgvrye lewe gelei en het nie in die minste omgegee oor enigiets behalwe my eie bestaan nie. Ek het gemors met geld, familie, harte, vriende en ook myself.
Dit het my laat besef hoe hierdie jaar nie noodwendig sleg was nie, maar ’n herinnering dat ek grootgeword het.

Ja, ek weet elke student skrik as hulle die woord “grootword” sien. Dit beteken vir baie die einde van hul bestaan. Studente weet met die verloor van hierdie sorgvrye leefstyl kom verantwoordelikheid, geldelike verpligtinge en aansienlik minder aande in die Square (hierdie sal miskien die moeilikste van alles wees).
Toe ek myself weer toelaat om in een van my vriende se ore te neul oor al my tekortkominge, sê hy baie kalm en eerlik vir my: “Dit is hartseer hoe jou jaar vol uitdagings was. Maar jy moes daardeur gaan om te besef hoe waardevol sekere dinge in die lewe is. Jy gaan ook nou twee keer dink voordat jy met ander mors.”
My lewensfilosofie was nog altyd om nooit spyt te wees nie. Om myself hieraan te herinner het ek selfs die woorde “no regrets” op my pols laat tatoeëer (ek het besluit op Engels omdat die woorde “moet nooit spyt wees oor jou dade nie” nooit sou inpas nie).

Ek het gereeld gesoek na ’n antwoord op al my kwale, maar het vergeet om net op my arm te kyk.
Ek kan nou terugkyk na al my uitdagings en nie spyt wees oor enigeen van hulle nie. Hulle het my gebring tot waar ek nou is.
Sterker, meer volwasse, meer bewus van ander en nog ’n trappie nader aan my toekomstige lewe.
So aan al die studente wat ander se geluk beny en verwens, hou op. Jy maak jouself net moeg. Jou ongelukkigheid is nie ’n uitgemaakte saak nie. Jou beurt sal weer kom, jy het nou net nodig om ’n bietjie te leer.

Oor gloriejare, woeker met kanse en ‘chelsea buns’


11/08/2010
Ryno Ellis


Die Wêreldbeker is ’n verlangse herinnering. Die straatsmouse verkoop weer vervelige goedere. Die vlae wat in ’n stadium al wat ’n motor versier het, is nou iets van die verlede. Die beker self is veilig in Spanje.

Suid-Afrikaners dink ook weer aan ander dinge en vir studente is dit veral die feit dat hierdie die laaste semester is wat voor in ons gedagtes draai.
Die semester is al in volle swang en soos altyd begin ek weer wonder: Het ek my tyd by Tuks goed gebruik? Het ek al genoeg gedoen? Geniet ek nog die ervaring? Wat wil ek nog hier bereik?

Dan onthou ek my tyd op kampus tot dusver.
Ek het al, soos menige student, sonder spyt van rigting verander. Ek het ’n koshuis my tuiste genoem en het tonne boesemvriende daar gemaak.
Saam met my makkers het ek die wêreld buite my koshuiskamer verken. Tye het gekom waar alkohol my baas geraak het en ek gespog het op Dropzone se dansvloer met my passievolle kleindorpse dansvermoëns. Liefde en hartseer het my gevind. Dit is so verbasend hoe die twee chronologies op mekaar volg. Keer op keer het ek die emosies leer ken en dan hulle ook baasgeraak.
Ek het al uit pure nuuskierigheid al die verskillende kampusse verken. Groenkloof met sy prag-heuwels bly my gunsteling.
Daar was ook die een droewige dag wat ek by die verkeerde klas ingestrompel het – natuurlik oor ek weer laat was – en toe bedagsaam gegroet is deur ’n Spaans-dosent. Ek het toe maar uit vernedering die klas stil bygewoon en my Spaans ’n bietjie opgeknap.
Ek het myself deel gemaak van organisasies waaroor ek passievol voel, het hulle funksies laatnag op die graffitimuur bemark, met ’n glas sjerrie in die hand om die koue teen te werk.
Kampus-sielkundiges het my al hoor neul oor my “emosies” en kampus-dokters oor my ernstige “maagprobleme” (gewoonlik voor ’n lastige semestertoets).
’n Eerstejaar van Madelief het my ook al met haar sambreel bygedam nadat haar jottir onder my voet verpletter is.

Terwyl ek nostalgies aan al my kosbare herinneringe terugdink, kom ’n oorweldigende gevoel van tevredenheid oor my.
Dit voel asof ek na elke eerstejaarstudent wil loop en dié boodskap met hulle wil deel: “Hierdie is jou gloriejare! Woeker daarmee! Moenie bang wees vir uitdagings nie! Vind liefde en as jou hart gebreek word, doen dit weer! En eet baie chelsea buns tussen klastye, want hulle is heerlik!”
Ek wonder weer wat lê volgende vir my voor.
Dan hoor ek my ma se stem in my agterkop eggo en ek weet meteens: “Gaan leer!”

VSR vanjaar nog gekies


28/07/2010
Ryno Ellis


Daar sal beslis vanjaar ’n Verteenwoordigende Studenteraad (VSR)-verkiesing gehou word.

Dié besluit is die afgelope naweek geneem tydens ’n vergadering van die UP se Veelparty-kongres (VPK). Die VPK het Saterdag vergader om besluite te neem oor veranderinge aan die universiteit se grondwet.

Die VSR-verkiesing is verlede jaar deur protesaksie ontwrig. Daar is sedertdien nie ’n VSR verkies nie en ’n Tydelike Studentekomitee (TSK) is aangewys.
“Dit is nie meer ’n kwessie nie, die VSR-verkiesing gaan gebeur,” het Marius Ellis, voorsitter van die TSK, ná die vergadering gesê.

Volgens Ellis het die VPK besluit om so gou moontlik die bal aan die rol te kry vir die volgende VSR-verkiesing.“Die grondwet moet eers aan ’n paar noodsaaklike prosedures onderwerp word voordat dit finaal goedgekeur kan word,” sê hy.
Ellis sê Tukkie-studente behoort binne die volgende paar weke meer inligting oor die verkiesing te kry.

Daar is ook besluit dat die TSK se termyn tot ’n einde sal kom wanneer die VSR-verkiesing gehou word.

Prof. Linda Schoeman-Malan, verteenwoordigende direkteur vir studentesake, sê die TSK sou afhanklik net vir ses maandedien. Weens die vertraging van verskeie besluite is hul termyn egter verleng.

Ellis sê dié verlengde diensperiode het in ’n mate tot frustrasie onder TSK-lede gelei.

Schoeman-Malan voorspel egter volgende jaar se VSR behoort teen Oktober ingehuldig te word.“Die VSR sal dan opgelei word om teen volgende jaar gereed te wees om met hul werk te begin,” sê Schoeman-Malan.

Daar is ook besluit dat die VSR volgens ’n kwotastesel verkies sal word.
“Die VPK het besluit daar moet in die VSR ’n minimum van 40% van die onderskeie rasse en geslagte verteenwoordig word,” sê Ellis.
Ellis sê die kwotastelsel sal slegs op die VSR van toepassing wees en nie op die studente-parlement nie.

’n Derde besluit wat tydens die vergadering geneem is, is dat lede van daghuise voorlopig nie deel kan wees van die studenteparlement nie.
“Die studente-parlement sal net bestaan uit lede van koshuise, organisasies en die fakulteite,” sê Ellis. Meer daghuise sal eers deur die universiteit geskep moet word voordat daghuise ook in die parlement kan dien.

Die VPK het egter nog nie finaal hieroor besluit nie.

Haal diep asem en glimlag eerder


2010-03-16
Ryno Ellis


“Al voel dit of jy ’n student wil vermoor, bly net kalm.”

Dís die raad wat Hettie Kirstein, uitvoerende hoof van studente-administrasie vir die fakulteit geesteswetenskappe, vir haar personeel het wat daagliks studente se probleme hanteer.

Administratiewe en fakulteitsraadgewers werk nou met studente saam. Geduld en vriendelikheid word verwag sodat studente ten volle ingelig kan bly.

Boitumelo Motsoenyane, ’n derdejaar aan Tuks, moes onlangs ’n probleem met betrekking tot haar studies by die kliëntedienssentrum (KDS) gaan oplos en meen sy het nie dié behandeling gekry nie.

“Die diens was aaklig; as ek nie self nog inligting gaan soek het nie, sou ek sekerlik tot vandag toe nog in die verkeerde studierigting gewees het,” sê Motsoenyane.

Karen Lazenby, direkteur van die KDS, sê egter personeel is onderhewig aan ’n streng dienskode. Dit vereis dat hulle altyd professioneel en hoflik teenoor kliënte moet optree.

“Ek wil onmiddellik weet sodra iemand van my personeel ongeskik is, want studente is ons belangrikste kliënte,” sê Lazenby.

Kirstein sê ook daar is verskillende fakulteite en dat Tuks se administratiewe personeel dus nie almal oor dieselfde kam geskeer moet word nie.

“Elke fakulteit is verskillend en as daar ’n probleem in daardie spesifieke fakulteit ondervind word, moet dáárdie fakulteit verbeter, nie noodwendig almal nie,” sê sy.

Maar die storie het natuurlik ook ’n ander kant: Die personeel wat daagliks studente moet help om hul probleme op te los, ervaar ook soms onaangename gedrag.

Alette Carstens, hoof van studente-administrasie vir die fakulteit ekonomiese- en bestuurswetenskappe, sê studente is nie skaam om kru taal teenoor haar dienspersoneel te gebruik nie.

Conny Ramalepe, wat by dié fakulteit met studente werk, sê studente kan soms baie ongeduldig wees.

Maar Carstens sê sulke gedrag word goed gehanteer deur aandagtig na studente te luister en agter die kap van die byl te kom.

Gerda Smit werk ook regstreeks met studente en sê hoewel sy af en toe met ’n ongeskikte student te doen kry, is daar gewoonlik ’n rede vir sulke gedrag. Sy meen studente raak soms ongeskik omdat hulle oningelig is en moedeloos raak.

“Dit is studente se eie nalatigheid wat veroorsaak dat hulle nie die regte inligting het nie en hulle kom dan na ons toe vir antwoorde.”

Politieke leiers verdeeld oor Zuma-bedsake


2010-02-10
Ryno Ellis


Of hy geteken word met ’n stortkop bo sy kop en of hy afgeneem word by sy hoeveelste huwelikseremonie, een ding is seker: Suid-Afrika se president, Jacob Zuma, word altyd deur die een of ander skandaal gevolg.

Die nuutste skinderstorie oor Zuma is dat hy nog ’n buite-egtelike kind by die sokkerbaas Irvin Khoza se dogter Sonono Khoza verwek het.

Dié vier maande oue baba, Thandekile Matina, is Zuma se 20ste spruit.

Kampus-Beeld het by Tuks-studente en ander kampus-rolspelers gehoor wat hulle dink van Zuma se bedsake. Mehluli Nhlengethwa, hoof van die ANC-jeugliga op kampus, wou nie veel kommentaar lewer oor Zuma se private lewe nie.

Hy dink nie dit bring enigiemand iets in die sak om te tob oor wat politici agter geslote deure doen nie.

“Dit help nie mense soos ek en jy kritiseer die president se doen en late nie. Ons moet eerder saamwerk om groter bewustheid oor MIV/vigs te skep om die virus te oorwin,” het hy gesê.

Cilliers Brink is die DA-hoof op kampus.

Hoewel hy ook nie van Zuma se moraliteit ’n openbare kwessie wil maak nie, dink hy die welstand van die samelewing is in dié geval belangriker as goeie maniere.

“As ons staatshoof na hartelus onbeskermde seks met enigiemand het, stuur dit ’n baie gevaarlike boodskap die samelewing in.

“Die regering van so ’n leier het gewoon nie die gesag om gewone mense van riskante seksuele gedrag te ontmoedig nie.

Duidelik is die ANC-regering onder pres. Zuma net so onverskillig en onbeholpe in die stryd teen MIV/vigs soos onder pres. Thabo Mbeki.”

Ratshibvumo Ramabulana, ’n derdejaar-regstudent en lid van die ANC-jeugliga op kampus, dink ook nie dis reg om die president se optrede te bevraagteken nie.

“Wie weet of hulle nie dalk verlief is nie?” het Ramabulana bygevoeg.

Pierre Brouard, vise-direkteur van die sentrum vir vigsnavorsing (CSA) by Tuks, meen die president se optrede dui eerder op sy gesindheid teenoor vroue as sy houding teenoor vigs.

Hy het gesê dis hartseer dat Zuma sy magsposisie misbruik en dat vroue wat dalk self die mag najaag, hulle aan hom oorgee.

UP-orkes ‘magic in progress’


2010-02-10
Ryno Ellis


Meer as 120 studente het van 28 Januarie tot 3 Februarie oudisies afgelê om ’n plek in die UP se simfonie-orkes te kry.

Die name van die nuwe orkeslede is Maandag bekend gemaak.

“Die orkes is een van die opwindendste instellings op die kampus,” sê Ernst Muller, wat verlede jaar die orkesvoorsitter was.

“Elke keer wanneer jy speel, kry jy ’n geleentheid om die werke van die groot meesters te bemeester.

“Dit is magic in progress,” sê Muller.

Philippa Kotze, orkesbestuurder, sê die UP se simfonie-orkes is die grootste van sy soort in Suid-Afrika, met musici van alle ouderdomme.

Zanelle Britz, wat die tjello bespeel, was een van die talle hoopvolles wat ’n oudisie afgelê het.

Sy meen dit is ’n voorreg om in die orkes te speel omdat dit ’n baie goeie leerskool is.

Britz bieg sy is mal daaroor om lid te wees van ’n orkes.

Dis ’n plek waar fantastiese musiek en goeie vriendskappe onlosmaaklik deel van die ervaring is, sê sy.

Koshuise gaan wys wie hou beste party


2009-10-14
Ryno Ellis


FTV Brooklyn is bekend vir hulle glanspartytjies en die bekende sterre wat soms daar gesig wys.

Party Fest @ Brooklyn FTV was geen uitsondering nie.

Met Party Fest het ses vrouekoshuise die kans gehad om gasheer te speel en te wys wie die beste makietie kan hou.

Die koshuise word beoordeel volgens die hoeveelheid moeite, kreatiwiteit en gaste wat opdaag. Elke koshuis
het ’n tema om die aand so prettig moontlik te maak.

Lian Fourie, hoofkoördineerder van die kompetisie, sê dit was tot dusver ’n groot sukses en dat hy nie kan wag om te sien waarmee al die koshuise vorendag gaan kom nie. Hy het bygevoeg manskoshuise kry vroeg volgende jaar ’n beurt.

Curlitzia, wat reeds ’n kans gehad het om húl partytjie te reël, se tema was Durban July.

Lizanne Walters, HK-lid van Curlitzia, voel hulle staan ’n goeie kans om die kompetisie te wen.

“Die aand was regtig pumping en almal het baie pret gehad,” sê sy.

Magrietjie is vanaand aan die beurt, met die tema, Top Hat, Top Mask, Top Night en Klaradyn se partytjie, op 21 Oktober, is Funhouse.

“Mense gaan moet vashou, dié aand beloof om die rit van ’n leeftyd te wees,” sê sy.

Woensdae-aande is studente-aande, met goedkoop drankies en talle promosies.

Tydelike komitee kry die bal aan die rol


2010-04-14
Ryno Ellis


Die Tydelike Studente Komitee (TSK) sê studente en hul probleme is hul belangrikste verantwoordelikheid.

“Kry die bal aan die rol” is die slagspreuk van die Tydelike Studente Komitee (TSK).

Dié tussentydse komitee is aangestel nadat protesaksies die universiteit se Verteenwoordigende Studenteraadsverkiesing verlede jaar ontwrig het.

Sedertdien is daar nog nie ’n nuwe verkiesingsdatum aangekondig nie.

Prof. McGlory Speckman, die UP se studentedekaan, sê die TSK is verlede Oktober aangestel deur die Multiparty Konferensie (MPK), Studente Vergadering (SV) en 2009 se VSR.

“Die TSK is presies wat die naam aandui,” sê die UP se registrateur, prof. Niek Grové. “Dit is ’n tydelike komitee wat die rol van die VSR moet vervul totdat ’n nuwe VSR verkies is.”

Volgens Grové is die TSK nie so groot soos die VSR nie en het nie, soos gewoonlik in die geval van ’n VSR, ’n SV as tweede been van die studenteregering nie.

Hy sê egter die TSK het in belang van goeie studenteregering presies dieselfde opleiding gekry as wat die VSR normaalweg sou.

Hoewel die TSK net ’n tydelike komitee is, het dié groep studente ’n duidelike missie en plan vir Tukkies.

Marius Ellis, voorsitter van die TSK, sê dié organisasie dra studente se belange op die hart.

“Ek is baie trots op my sterk span leiers,” sê hy.

Prof.Grové beaam dit.

“Almal wat op die TSK dien het groot toewyding gewys om op dié liggaam te dien, veral onder moeilike omstandighede.”

Hy sê die helfte van die lede van die TSK het verlede jaar op die VSR of SV gedien. “Dié kontinuïteit is baie waardevol.”

Inklusiwiteit in UP se visier Ellis is onseker of daar voor die einde van die jaar ’n VSR verkies sal word. Totdat dit gebeur, sal hy en sy span egter hard werk ten bate van alle studente.

Hector Beyers was verlede jaar die voorsitter van die VSR en sê die UP se grondwet bepaal die TSK mag net vir ses maande dien.

“’n Nuwe VSR moet dus voor die einde van Junie verkies word,” sê hy.

“Die probleem met ’n struktuur soos die TSK is dat studente geen insette gehad het in die kiesproses nie. Daarom moet daar so vinnig as moontlik verkiesing gehou word sodat die gewone studente ’n sê het oor wie op die VSR mag dien.”

Volgens Grové word die universiteit se grondwet tans hersien om groter inklusiwiteit te verseker. Hy is hoopvol dat die proses voor die einde van die jaar afgehandel sal wees.

Beyers is egter ongelukkig oor die manier waarop die onderhandelingsproses om ’n nuwe VSR-struktuur te bepaal verloop.

“Tuks se hoofbestuur wil die leiers van die betoging met alle graagte gelukkig maak sodat hul nie weer sal betoog nie,” meen hy.

“Sedert die betoging is geen van die betogers wat vermoedelik mense aangerand het en skade aangerig het, aangekla nie.

Wat die situasie vererger, is dat dieselfde leiers van die gewelddadige betoging al sedert verlede jaar met hoofbestuur in vergaderings sit.”

Waar swot ek op ’n Sondag?


2010-10-06
Ryno Ellis


Die biblioteek op hoofkampus is nie op Sondae oop nie, maar studente wat tydens eksamens na stil swotplek soek, kan 24 uur per dag, sewe dae per week by die verskillende studiesentrums op kampus studeer.

Dit is ’n Sondagaand tydens die eksamen en jy skryf die volgende oggend ’n riller van ’n toets. Jy kan nie in jou koshuis swot nie, want daar is te veel afleidings. Waarheen gaan jy om konstruktief te swot?

Marié Rossouw ’n tweedejaar Tuks-student sê sy het al een Sondagoggend voor die toe deure van die biblioteek beland omdat sy na ’n stil plek gaan soek het om te studeer.

Studente wat dus dringend inligting benodig, of ’n stil plek soek om te studeer, sal ’n ander plan moet maak.

“Tuks is tans besig om ondersoek in te stel om die biblioteek ook op Sondae vir studente oop te stel,” sê Hilda Kriel, die adjunk-direkteur van biblioteekdienste aan die Universiteit van Pretoria (UP).

“Daar is baie groot begrotings-implikasies wat die proses vertraag,” voeg sy by.

As jy nie in jou kommune of koshuis aan die studeer kan kom nie, is daar darem ’n alternatief tydens eksamentye.

Salomie Stolz, direkteur van biblioteek-fasiliteite sê die studiesentrum is twee weke voor en tydens die eksamen vir 24 uur per dag, sewe dae per week oop.

Hoofkampus-biblioteek-ure
Maandae, Woensdae en
Donderdae: 07:30 tot 21:00
Dinsdae: 08:30 tot 21:00
Vrydae: 07:30 tot 20:00
Saterdae: 08:30 tot 13:00

Serrie-sweet ’n groot sukses


2010-10-06
Mia Spies en Ryno Ellis


Magrietjie, wat vanjaar as die wenners van die vroue-afdeling van Serrie aangewys is, tydens die Serrie-finaal Saterdag.

Drie maande van swoeg en sweet, deurnag danssessies, in-naweke, seer voete en geswikte enkels het Saterdagaand vir Vividus Mans en Magrietjie die moeite werd geword toe hulle aangewys as die Universiteit van Pretoria (UP) se 2010-serrie-wenners.

Volgens Danelle Kritzinger, Magrietjie se huiskomiteelid (HK) vir eksterne kultuur en die koshuis se serrie-afrigter, was alles omtrent die finale aand ongelooflik.

“Die energie en gees van die Magrietjie girls was freaken fantasties,” sê sy.

Izak Davel, van Survivor South Africa-faam, meen die aand was beslis ’n reusesukses danksy Stuku (Studentekultuur) se puik organisasie, die passievolle toeskouers en die koshuise se elektriese gees.

Marius Ellis, voorsitter van die Tydelik Studente Kommittee (TSK) glo ook dit was ’n baie suksesvolle aand.

Hy het veral lof gehad vir die serrie-organiseerder, Darin Swart.

“Darin het hom vanjaar omtrent goed van sy taak gekwyt,” het Ellis Saterdagaand gesê.

Volgens Ellis het Stuku het ’n nuwe beeld en word dié organisie vanjaar gedryf deur studente wat regtig omgee.

Die UP is ook meer bewus van die belangrikheid van kultuur aktiwiteite, meen Riaan van der Walt, voorsitter van Stuku.

“Alhoewel die serrie vanjaar baie mededingend was, was daar ’n baie lekker ‘vibe’,” sê van der Walt.

Selfs die universiteit se vise-rektor Prof. Cheryl de la Rey het serrie-finaal bygewoon.

Sy sê hoewel dit haar eerste ervaring van serrie was, sy gedink het die standaarde is baie hoog.

“Ek is ongelooflik beïndruk en is baie trots om deel te wees van hierdie byeenkoms,” sê sy.