4/25/11

Orania Jeug stig kampus-tak


2011-04-20
Ryno Ellis


Orania het nou ’n jeugtak by Tuks, Orania Jeug, en dié organisasie sorg vir gemengde reaksie onder studente.

Orania Jeug se Tukkies-tak is op 8 April gestig. Pieter de Villiers, voorsitter van dié tak, sê hulle wil studente bewus maak van dié omstrede Afrikaner-dorpie op die grens van die Vrystaat en die Noord-Kaap.

Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van Orania Jeug en die voorsitter van Tuks se Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), sê Orania is nie ’n plek waar ou idees of mense vasgevang is nie.

“Orania is ’n plek waar Afrikaners rustig kan voortleef, hul eie dorpsraad hê, hul eie besluite kan neem en binne die konteks van Suid-Afrika die ideaal van die Afrikaner uitleef,” sê Oberholzer.

Die doel van die jeugtak by Tuks is volgens Oberholzer nie om nuwe inwoners vir die dorp te werf nie, maar eerder om mense in te lig.

“Jon mense voel al hoe meer hulle wil verantwoordelik wees vir hulle eie toekoms, sonder regstellende aksie, sonder korrupte munisipaliteite en in ’n omgewing waar hulle hul kultuur kan uitleef,” sê hy.

Oberholzer sê daar is niks ekstremisties omtrent Orania nie.

“Niemand in Orania is rassisties of ekstremisties nie. Orania is nie gestig uit haat vir die res van Suid-Afrika nie,” sê hy.

Sedupe Ramokgopa, die voorsitter van die South African Student Congress (Sasco), is nie beïndruk daarmee dat Orania Jeug ’n Tuks-tak het nie.

“Na my mening staan ’n organisasie soos Orania vir niks meer as regse politiek en anargie nie,” sê Ramokgopa.

Hy wens dié organisasie voorspoed toe as hulle die studente se belange op die hart dra, maar waarsku studente om bewus te wees van verskuilde agendas.

Marlene Botha, ’n Tuks-student, is teen die Orania-beweging op kampus gekant.

“Die Orania-gemeenskap is ’n teruggryping na Afrikaner-nasionalisme. Hulle leef onder ’n illusie as hulle dink hulle gaan enigiets regkry op kampus. Dit is maar net nog ’n groep studente wat onder die invloed van hul voorouers se politieke ideale is,” sê Botha.

No comments:

Post a Comment