4/10/11

Sang of show? Kyk wie wen…


14 AUGUST 2009
RYNO ELLIS & ELAINE SWANEPOE
L

Die wenners van Tuks se Serenade kompetisie is uiteindelik bekend gemaak. Op 31 Julie is Boekenhout en Madelief gekies om Tuks se naam by vanjaar se Nasionale Serenade in Johannesburg hoog te hou.

Die kompetisie was straf en dit was moeilik om ‘n gunsteling uit die agt finaliste te kies. Die beoordelaars was John-Henry Opperman van Klopjag en die Idols-wenner Dewald Louw. Vividus Mans en Dames het ‘n tweede plek verwerf en Asterhof en Zeus was derde. Boekenhout is ook as algehele wenner van die aand benoem.
Boekenhout het ‘n skreeusnaakse voorstelling van ‘n malhuis gedoen, met elke sanger wat ‘n ander afwyking uitgebeeld het en uitstekend deur die hele vertoning in karakter gebly het.

Madelief se tema was ‘corpse brides’ en hulle kostuums en grimering was iets besonders.

Micheal Jackson se Thriller was die hoogtepunt van Zeus se vertoning, en Vividus Dames het ‘n oulike weergawe van die liedjie That’s not my name gedoen.
Daar is egter weereens ontevredenheid en twyfel oor die koshuise wat deur is na die finale, sowel as oor die uiteindelike wenners. Sommige studente, onder andere Madelief se Serenade-HK, Annemarie Mostert, voel dat Sonop of Mopanie, eerder as Olienhout, in die finaal moes gewees het.

Jasmyn se Serenade-HK, Christine Pretorius, voel egter dat die beoordeling regverdig was en sê dat die beoordelaars ‘n goeie werk gedoen het, en volgens die regte persentasies beoordeel het.

Die feit dat die puntetelling vir vanjaar se Serenade verander het om te verseker dat sang meer as die optrede en kostuums tel, het ook veroorsaak dat die uitslae bevraagteken is.

Opperman sê dat hoewel Serenade wel oor sang gaan, daar die afgelope jaar meer op die “entertainment value” van ‘n serenade-optrede gefokus is. Opperman voel dat Madelief die beste gesing het, maar dat Boekenhout nie die beste was wat sang betref nie. Opperman sê verder dat dit ‘n eksperiment sal wees om hierdie twee koshuise na die nasionale kompetisie te stuur.

Leroné Godfrey van Studentekultuur (Stuku) verduidelik dat daar van die begin af aan die koshuise sowel as die beoordelaars duidelik gemaak is dat Serenade vanjaar meer op sang en minder op die optrede self moes fokus. Godfrey erken self dat dit nie gebeur het nie.

Boekenhout se Serenade-HK, Christof van Zyl, is egter heel tevrede oor die uitslae en voel dat die beoordeling regverdig was. “Die judges besluit en dis hoe dit is,” sê Van Zyl. Hy sê ook dat daar nog baie harde werk vir hulle vir die nasionale kompetisie voorlê, maar dat dit ‘n oop kompetisie is en enigiemand kan wen.
Ook Madelief is baie positief oor die finale. “Ons gaan ons beste doen, maar gaan om dit te geniet,” sê Mostert.

Danielle Coetsee, van Stuku, sê dat al die koshuise oortuig is dat Serenade hierdie jaar baie meer georganiseerd en dus ‘n groter sukses was. Of almal tevrede is met die uitslae of nie, die wenners is gekies. Ons sal net moet wag en sien of hulle by die ander universiteite se wen-koshuise kan kers vashou.

No comments:

Post a Comment