Labels

Comment Pieces (3) Entertainment (5) Features (3) Kampus Beeld (10) My Favourites (2) News (6) Perdeby (8) Photography (2) Politics (3) Res Update (6)
Showing posts with label Comment Pieces. Show all posts
Showing posts with label Comment Pieces. Show all posts

4/11/11

Passop vir liefde


09/02/2009
RYNO ELLIS


In haar liedjie Stille Waters vra Laurika Raugh
retories, “wie sal ooit die liefde kan verstaan?”
Sy sê ook, “onder draai die duiwel rond”. Sy
praat baie waarhede in hierdie liedjie en mens
moet altyd op jou hoede wees vir liefde en die
moeilikheid wat saam met dit kom.

Ek het met HK dogters van ʼn paar
meisieskoshuise gaan praat wat al kenners
is rakend mans en hul streke op Universiteit.
Hulle het vriendelik hul advies gedeel in die
hoop om te verhoed dat eerstejaar meisies in
die lokvalle gevang sal word wat op hulle pad
wag.

Thato Rakhale, HK lid by Erika koshuis,
sê dat liefde op die oomblik nie regtig in haar
lewe bestaan nie, maar sê streng dat meisies
hulle hart goed moet beskerm. Sy waarsku
ook dat meisies veral moet oppas vir Kollege
manskoshuis. Dan sê Anelle Smit, van Jasmyn,
dat eerstejaarmeisies moet oppas vir ouens met
ʼn gladde bek (veral van Boekenhout). Hulle
moet ook bedag wees vir die, “kom ek wys jou
my ketel” frase. Dan laastens deel Michelle du
Toit, van Asterhof, mee dat hulle gewaarsku is
oor Sonop en voltooi in een maklike sin presies
wat sy glo elke meisie moet weet, “Mans is
wolwe, passop!”

So mens moet liefde geniet wanneer dit jou
kant toe kom maar dit kan net goed wees om
gereed te wees vir die hartseer wat dit net dalk
mag bring, want selfs ou wyse Laurika waarsku
ook, “dis nie alles maanskyn en rose nie.”

4/10/11

Moeilike jaar beteken nie slegte jaar


20/10/2010
Ryno Ellis


Ek staan nou die dag in ’n ry op kampus (besig om my te bekommer oor my volgende toets) en hoor toevallig hoe twee vriendinne gesels.
Die meisies verduidelik aan mekaar hoe wonderlik hul eerste jaar op kampus verloop het. Hulle spog geesdriftig oor hul nuwe vryheid as studente, en ook oor al die skatte wat die jaar voorsien het: splinternuwe motors, eie woonstelle, goeie vriende en ook oulike kêrels wat hulle bederf.
Ek het die meisies en al hul geluk stil-stil vervloek en my verder bekommer oor my verpligtinge.

Vanjaar was vir my die teenoorgestelde. Dit was gevul met hartseer, verkeerde keuses, geldelike onstabiliteit en liefdeskwale.
Ek het dae lank hierdie meisies beny. Ek het bly wonder waarom my jaar nie ook iets kon wees om oor te spog by ander nie.
Ek het besef ek was tydens my vorige jare as student bederf en onverantwoordelik. Ek het ’n sorgvrye lewe gelei en het nie in die minste omgegee oor enigiets behalwe my eie bestaan nie. Ek het gemors met geld, familie, harte, vriende en ook myself.
Dit het my laat besef hoe hierdie jaar nie noodwendig sleg was nie, maar ’n herinnering dat ek grootgeword het.

Ja, ek weet elke student skrik as hulle die woord “grootword” sien. Dit beteken vir baie die einde van hul bestaan. Studente weet met die verloor van hierdie sorgvrye leefstyl kom verantwoordelikheid, geldelike verpligtinge en aansienlik minder aande in die Square (hierdie sal miskien die moeilikste van alles wees).
Toe ek myself weer toelaat om in een van my vriende se ore te neul oor al my tekortkominge, sê hy baie kalm en eerlik vir my: “Dit is hartseer hoe jou jaar vol uitdagings was. Maar jy moes daardeur gaan om te besef hoe waardevol sekere dinge in die lewe is. Jy gaan ook nou twee keer dink voordat jy met ander mors.”
My lewensfilosofie was nog altyd om nooit spyt te wees nie. Om myself hieraan te herinner het ek selfs die woorde “no regrets” op my pols laat tatoeëer (ek het besluit op Engels omdat die woorde “moet nooit spyt wees oor jou dade nie” nooit sou inpas nie).

Ek het gereeld gesoek na ’n antwoord op al my kwale, maar het vergeet om net op my arm te kyk.
Ek kan nou terugkyk na al my uitdagings en nie spyt wees oor enigeen van hulle nie. Hulle het my gebring tot waar ek nou is.
Sterker, meer volwasse, meer bewus van ander en nog ’n trappie nader aan my toekomstige lewe.
So aan al die studente wat ander se geluk beny en verwens, hou op. Jy maak jouself net moeg. Jou ongelukkigheid is nie ’n uitgemaakte saak nie. Jou beurt sal weer kom, jy het nou net nodig om ’n bietjie te leer.

Oor gloriejare, woeker met kanse en ‘chelsea buns’


11/08/2010
Ryno Ellis


Die Wêreldbeker is ’n verlangse herinnering. Die straatsmouse verkoop weer vervelige goedere. Die vlae wat in ’n stadium al wat ’n motor versier het, is nou iets van die verlede. Die beker self is veilig in Spanje.

Suid-Afrikaners dink ook weer aan ander dinge en vir studente is dit veral die feit dat hierdie die laaste semester is wat voor in ons gedagtes draai.
Die semester is al in volle swang en soos altyd begin ek weer wonder: Het ek my tyd by Tuks goed gebruik? Het ek al genoeg gedoen? Geniet ek nog die ervaring? Wat wil ek nog hier bereik?

Dan onthou ek my tyd op kampus tot dusver.
Ek het al, soos menige student, sonder spyt van rigting verander. Ek het ’n koshuis my tuiste genoem en het tonne boesemvriende daar gemaak.
Saam met my makkers het ek die wêreld buite my koshuiskamer verken. Tye het gekom waar alkohol my baas geraak het en ek gespog het op Dropzone se dansvloer met my passievolle kleindorpse dansvermoëns. Liefde en hartseer het my gevind. Dit is so verbasend hoe die twee chronologies op mekaar volg. Keer op keer het ek die emosies leer ken en dan hulle ook baasgeraak.
Ek het al uit pure nuuskierigheid al die verskillende kampusse verken. Groenkloof met sy prag-heuwels bly my gunsteling.
Daar was ook die een droewige dag wat ek by die verkeerde klas ingestrompel het – natuurlik oor ek weer laat was – en toe bedagsaam gegroet is deur ’n Spaans-dosent. Ek het toe maar uit vernedering die klas stil bygewoon en my Spaans ’n bietjie opgeknap.
Ek het myself deel gemaak van organisasies waaroor ek passievol voel, het hulle funksies laatnag op die graffitimuur bemark, met ’n glas sjerrie in die hand om die koue teen te werk.
Kampus-sielkundiges het my al hoor neul oor my “emosies” en kampus-dokters oor my ernstige “maagprobleme” (gewoonlik voor ’n lastige semestertoets).
’n Eerstejaar van Madelief het my ook al met haar sambreel bygedam nadat haar jottir onder my voet verpletter is.

Terwyl ek nostalgies aan al my kosbare herinneringe terugdink, kom ’n oorweldigende gevoel van tevredenheid oor my.
Dit voel asof ek na elke eerstejaarstudent wil loop en dié boodskap met hulle wil deel: “Hierdie is jou gloriejare! Woeker daarmee! Moenie bang wees vir uitdagings nie! Vind liefde en as jou hart gebreek word, doen dit weer! En eet baie chelsea buns tussen klastye, want hulle is heerlik!”
Ek wonder weer wat lê volgende vir my voor.
Dan hoor ek my ma se stem in my agterkop eggo en ek weet meteens: “Gaan leer!”