5/11/11

Serrie se sterre skitter


2011-05-09
Ryno Ellis


“Serrie is die hartklop van die Tuks-kultuur,” sê Danelle Kritzinger, ’n Stuku-lid (Studentekultuur) en organiseerder van die vanjaar se Serrie.

Die eindronde is Donderdagaand in die Amfiteater gehou.

Erika is aangewys as die wenner van die vroue-afdeling met die tema Magic en Boekenhout is as die wenner in die mansafdeling bekroon. Hul tema was Gangs of Alcatraz
Kritzinger sê Serrie was ’n groot sukses.

“Ek moet al die eer gee aan elke lid van die Stuku. Hulle was dié aand my vlerkies,” sê sy.

Prof. Roelf Visser, direkteur van koshuissake by Tuks, het die eindstryd bygewoon. Hy was vol lof oor die sukses van die aand.

Visser het beklemtoon hy voel Serrie-deelname is baie belangrik vir koshuisstudente en dat dit vir goeie dissipline sorg.

“Serrie is harde werk, maar dit laat studente wegkom van die boeke om deel te wees van die studentelewe,” sê hy.

Die aktrise Hanna Grobler, een van die beoordelaars, sê Serrie is wonderlik vir gees- en kultuurbou in koshuise.

“Serrie is altyd ’n lekker bymekaarkomkans vir studente,” sê Grobler.

Vanjaar se ander beoordelaars was dr. Masitha Hoeane van UP Kunste, die sanger Bok van Blerk, Jonette van den Bergh van die Royal Academy of Ballet, Charlotte Botha, ’n sopraan in die Wêreldjeugkoor, asook Lee Pillay, Thabo Sebatlelo en Matamela Wellington van die Moving into dance Mophatong-akademie.

No comments:

Post a Comment