5/11/11

VSR sê tata vir Tukkiewerf


2011-05-11
Ryno Ellis


Tukkiewerf het deur die jare al honderde mense sien kom en gaan. Van priesters en nonne, tot gedrewe jong leiers wat vuur en vlam is om die wêreld te verander en hordes geesdriftige studente.

“Tukkiewerf het baie herinneringe, daar is baie besluite geneem vir studente, baie baklei en baie bereik,” sê Charl Oberholzer, die voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR).

Volgende op die lang lys om die gange van dié geskiedkundige gebou in te neem is die eggo van geselsende BCom-studente en personeellede.

Tukkiewerf was vir die afgelope drie dekades meer as net ’n pragtige gebou.

Die gebou is al vir jare die tuiste van die VSR en verskeie ander studente-organisasies soos Stuku (Studentekultuur). Ongelukkig is hulle tyd in Tukkiewerf amper verby en begin die groot trek aan die einde van die maand.

Tuks beoog om almal wat Tukkiewerf tans ’n tuiste noem te verskuif na die Roosmaryn-gebou op kampus.

Die voorsitter van die VSR, Charl Oberholzer, het bevestig dat die Tuks-toonbank en die VSR wel na Roosmaryn verskuif.

“Dit is ’n geveg wat die VSR al vier vir jaar veg en nou finaal verloor het,” sê Oberholzer.

Die rede vir die verskuiwing is omdat die fakulteit ekonomiese en Bestuurswetenskappe tans te min kantore het en Tukkiewerf daarom gaan oorneem.

Tukkiewerf en die Kapel is in die 1920’s as kloosterkompleks vir die Christian Brothers College (CBC) gebou.
Die gebou is op 8 Mei 1980 gekoop deur Tuks vir R1,6 miljoen.

Nadat die gebou gerestoureer is, het die VSR, Tuks-toonbank en ander organisasies in 1984 ingetrek. Die gebou is toe deur die VSR as Tukkiewerf gedoop.

Mev. Louise Botma, die VSR se sekretaresse, het in 1987 by Tukkiewerf begin werk.

Sy sê sy het die afgelope 24 jaar ’n tegnologiese evolusie in die gebou meegemaak.

“Toe ek hier begin werk het, het ons net van elektriese tikmasjiene gebruik gemaak en as jy ’n brief aan meer as een persoon moes uitstuur, moes jy dit meer as een keer tik,” sê sy.

Sy het later van woordverwerkingsprogramme sonder enige hardeskyf gebruik gemaak en moes al haar inligting op ’n floppy disk stoor wat so groot soos ’n A5-bladsy is. Nou is dinge baie meer gemaklik danksy moderne tegnologie wat jou toelaat om ’n geheuestokkie (flash disk) te gebruik.

“Hoewel ek hartseer is oor die trek Roosmaryn toe, is ek baie opgewonde oor die uitdaging. Ek glo ook met tyd sal al die studente ook weet waar die VSR is,” sê Botma.

Nerina Krige, die senior administrasiebeampte by Tukkiewerf, werk al sedert 1989 daar.

Krige onthou die afgelope 22 jaar by Tukkiewerf as ’n heerlike vakansie.

“Hoewel ek al hard gewerk het, het ek elke oomblik geniet,” sê sy.

Sy onthou die dae toe sy nog onderdeur die Geesteswetenskappe-gebou (GW) kon ry op pad werk toe en dat daar ’n roostuin was waar die Studente Sentrum voor Tukkiewerf nou geleë is.

Sy sê ook een van haar gunsteling- herinneringe was toe Lukas Maree nog by die Aula gewerk het.

“Elke keer dat hy gebel het en moes totsiens sê, het hy sy groet gesing,” sê sy.

Met die groot trek uit Tukkiewerf sal meer as net Oom Gert saamgeneem word.

Goeie herinneringe en ’n deurleefde studente-geskiedenis sal egter nog lank in die gange van Tukkiewerf bly hang.

No comments:

Post a Comment