4/10/11

Moeilike jaar beteken nie slegte jaar


20/10/2010
Ryno Ellis


Ek staan nou die dag in ’n ry op kampus (besig om my te bekommer oor my volgende toets) en hoor toevallig hoe twee vriendinne gesels.
Die meisies verduidelik aan mekaar hoe wonderlik hul eerste jaar op kampus verloop het. Hulle spog geesdriftig oor hul nuwe vryheid as studente, en ook oor al die skatte wat die jaar voorsien het: splinternuwe motors, eie woonstelle, goeie vriende en ook oulike kêrels wat hulle bederf.
Ek het die meisies en al hul geluk stil-stil vervloek en my verder bekommer oor my verpligtinge.

Vanjaar was vir my die teenoorgestelde. Dit was gevul met hartseer, verkeerde keuses, geldelike onstabiliteit en liefdeskwale.
Ek het dae lank hierdie meisies beny. Ek het bly wonder waarom my jaar nie ook iets kon wees om oor te spog by ander nie.
Ek het besef ek was tydens my vorige jare as student bederf en onverantwoordelik. Ek het ’n sorgvrye lewe gelei en het nie in die minste omgegee oor enigiets behalwe my eie bestaan nie. Ek het gemors met geld, familie, harte, vriende en ook myself.
Dit het my laat besef hoe hierdie jaar nie noodwendig sleg was nie, maar ’n herinnering dat ek grootgeword het.

Ja, ek weet elke student skrik as hulle die woord “grootword” sien. Dit beteken vir baie die einde van hul bestaan. Studente weet met die verloor van hierdie sorgvrye leefstyl kom verantwoordelikheid, geldelike verpligtinge en aansienlik minder aande in die Square (hierdie sal miskien die moeilikste van alles wees).
Toe ek myself weer toelaat om in een van my vriende se ore te neul oor al my tekortkominge, sê hy baie kalm en eerlik vir my: “Dit is hartseer hoe jou jaar vol uitdagings was. Maar jy moes daardeur gaan om te besef hoe waardevol sekere dinge in die lewe is. Jy gaan ook nou twee keer dink voordat jy met ander mors.”
My lewensfilosofie was nog altyd om nooit spyt te wees nie. Om myself hieraan te herinner het ek selfs die woorde “no regrets” op my pols laat tatoeëer (ek het besluit op Engels omdat die woorde “moet nooit spyt wees oor jou dade nie” nooit sou inpas nie).

Ek het gereeld gesoek na ’n antwoord op al my kwale, maar het vergeet om net op my arm te kyk.
Ek kan nou terugkyk na al my uitdagings en nie spyt wees oor enigeen van hulle nie. Hulle het my gebring tot waar ek nou is.
Sterker, meer volwasse, meer bewus van ander en nog ’n trappie nader aan my toekomstige lewe.
So aan al die studente wat ander se geluk beny en verwens, hou op. Jy maak jouself net moeg. Jou ongelukkigheid is nie ’n uitgemaakte saak nie. Jou beurt sal weer kom, jy het nou net nodig om ’n bietjie te leer.

No comments:

Post a Comment