4/10/11

Oor gloriejare, woeker met kanse en ‘chelsea buns’


11/08/2010
Ryno Ellis


Die Wêreldbeker is ’n verlangse herinnering. Die straatsmouse verkoop weer vervelige goedere. Die vlae wat in ’n stadium al wat ’n motor versier het, is nou iets van die verlede. Die beker self is veilig in Spanje.

Suid-Afrikaners dink ook weer aan ander dinge en vir studente is dit veral die feit dat hierdie die laaste semester is wat voor in ons gedagtes draai.
Die semester is al in volle swang en soos altyd begin ek weer wonder: Het ek my tyd by Tuks goed gebruik? Het ek al genoeg gedoen? Geniet ek nog die ervaring? Wat wil ek nog hier bereik?

Dan onthou ek my tyd op kampus tot dusver.
Ek het al, soos menige student, sonder spyt van rigting verander. Ek het ’n koshuis my tuiste genoem en het tonne boesemvriende daar gemaak.
Saam met my makkers het ek die wêreld buite my koshuiskamer verken. Tye het gekom waar alkohol my baas geraak het en ek gespog het op Dropzone se dansvloer met my passievolle kleindorpse dansvermoëns. Liefde en hartseer het my gevind. Dit is so verbasend hoe die twee chronologies op mekaar volg. Keer op keer het ek die emosies leer ken en dan hulle ook baasgeraak.
Ek het al uit pure nuuskierigheid al die verskillende kampusse verken. Groenkloof met sy prag-heuwels bly my gunsteling.
Daar was ook die een droewige dag wat ek by die verkeerde klas ingestrompel het – natuurlik oor ek weer laat was – en toe bedagsaam gegroet is deur ’n Spaans-dosent. Ek het toe maar uit vernedering die klas stil bygewoon en my Spaans ’n bietjie opgeknap.
Ek het myself deel gemaak van organisasies waaroor ek passievol voel, het hulle funksies laatnag op die graffitimuur bemark, met ’n glas sjerrie in die hand om die koue teen te werk.
Kampus-sielkundiges het my al hoor neul oor my “emosies” en kampus-dokters oor my ernstige “maagprobleme” (gewoonlik voor ’n lastige semestertoets).
’n Eerstejaar van Madelief het my ook al met haar sambreel bygedam nadat haar jottir onder my voet verpletter is.

Terwyl ek nostalgies aan al my kosbare herinneringe terugdink, kom ’n oorweldigende gevoel van tevredenheid oor my.
Dit voel asof ek na elke eerstejaarstudent wil loop en dié boodskap met hulle wil deel: “Hierdie is jou gloriejare! Woeker daarmee! Moenie bang wees vir uitdagings nie! Vind liefde en as jou hart gebreek word, doen dit weer! En eet baie chelsea buns tussen klastye, want hulle is heerlik!”
Ek wonder weer wat lê volgende vir my voor.
Dan hoor ek my ma se stem in my agterkop eggo en ek weet meteens: “Gaan leer!”

No comments:

Post a Comment