4/10/11

Opmars van die onnies


2010-02-17
Ryno Ellis


Wrywing tussen koshuise op die Hatfieldkampus en eksterne kampusse soos Groenkloof en Onderstepoort het die afgelope paar jaar toenemend kop uitgesteek.

Veral wat jool- en kultuuraktiwiteite betref, bestaan die persepsie dat eksterne koshuise aan die agterspeen suig terwyl hoofkampuskoshuise die “Milky Lane”-koshuise, of witbroodjies, is.

Met jool vanjaar het Groenkloofkoshuise dié persepsie in die kiem gesmoor. Kiaat, ’n manskoshuis op Groenkloof, het met Erika saamgewerk om hul joolvlot te bou en het die wenplek behaal.

Verlede jaar was Zinnia, ’n vrouekoshuis op die Groenkloofkampus, onder die vyf top-vrouekoshuise by Tuks na aanleiding van die Prestige-uitslae.

Maar waarom steek negatiewe persepsies dan vas oor koshuise wat nie op die Hatfield-kapus geleë is nie?

Volgens Elsje Blignaut, wat in 2009 die VSR-lid vir koshuise was, behandel TuksRes alle UP-koshuise gelyk wat bestuur, geleenthede en instandhouding betref.

Blignaut sê egter eksterne kampusse soos Groenkloof, Prinshof, Onderstepoort en Tuks-Naledi word moontlik deur diensverskaffers en koshuise op die Hatfield-kampus as kleiner en dus minder belangrik beskou.

Volgens Huburt Human, ’n huiskomiteelid (HK-lid) van Kiaat, is louwarm deelname aan koshuisaktiwiteite in die verlede dalk die rede waarom Groenkloofkoshuise se aansien so laag is.

Die afgelope paar jaar het HK-lede van Groenkloofkoshuise egter hard gewerk om van dié negatiewe beeld, ontslae te raak,
sê hy.

Nanda Dewit, ’n HK-lid van Zinnia, ook op die Groenkloofkampus, sê sy glo daar word steeds duidelik onderskeid getref tussen koshuise op die Groenkloofkampus en dié op die Hatfieldkampus.

“Ek dink die rede vir dié skeiding is omdat die Groenkloofkoshuise nie so oud is soos dié van Hatfield nie.”

Volgens Dewit het lede van vorige jare se studentekultuur-komitee (Stuku) telkens aan mense genoem hulle sal alles in hul vermoë doen om te keer dat Groenkloofkoshuise presteer in kulturele aktiwiteite soos Ienkmelodienk en Stuku.

Darin Swart, Stuku-lid vir eksterne kultuur (Ienkmelodienk, Sesrrie en Serenade), sê egter die uitslae van beoordeelde kultuur-aktiwiteite word geheel en al deur onafhanklike beoordelaars beheer.

“Eksterne HK-lede dien ook in die beoordelaarspaneel en dit verseker elke koshuis word oor dieselfde kam geskeer,” sê Swart.

“Dit kom voor as selfbejammering as koshusie sê hulle word nie oor dieselfde kam geskeer as hul mededingers nie.”

Josias Coetzee, ’n inwoner van Olympus, glo egter ook eksterne koshuise trek aan die kortste end.

“Olympus het nie eers lokale om vir sêrrie, Ienkmelodienk en serenade te oefen nie. Ons eerstejaars moes in die parkeerarea vir Ienkmelodienk oefen met flitse en motorligte,” sê hy.

Wat dink jy? Stuur vir Kampus-Beeld ’n e-pos by tuks@beeld.com.

No comments:

Post a Comment